top of page

Stap Saam

Gemeente Beleid

Visie

Stap saam met God, Mekaar en ander

Missie

Om 'n dissipel van Jesus die Christus te wees en om dissipels vir Hom in ons omgewing en die wêreld te maak.

Geestelike bedieninge en gawes

Kruik Gemeente erken dat elke gelowige 'n bediening van God ontvang het, asook 'n gawe om die bediening uit te leef.

 

Die primêre funksie van Kruik se Leierskap is om gelowiges toe te rus vir goeie dienswerk vir die opbou van die liggaam van Christus, volgens Ef. 4: 1-16.

Kernwaardes en ander prominente waardes

Die gemeente onderskryf die volgende kernwaardes:

 

  • Intensionele groei

  • Intieme aanbidding

  • 'n Missionale lewe

  • Diensbaarheid

  • Vrygewigheid

  • 'n Lewe in gemeenskap

 

 

Geloofsbelydenis

Die gemeente onderskryf die Geloofsbelydenis van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika.

 

  • ONS GLO in die ewige drie-enige God, almagtige Skepper, onderhouer en regeerder van die ganse skepping.

  • ONS GLO in God die Vader, die outeur van die skepping en verlossing.

  • ONS GLO in Jesus Christus die enigste Seun van God die Vader, ware God wat ter wille van die mensdom en sy verlossing van die hemel neergedaal en vlees geword het; wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het en gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, wat uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die regterhand van die Vader sit.

  • ONS GLO in die Heilige Gees, ware God wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en ons in die hele waarheid lei.

  • ONS GLO dat die Bybel die Woord van God is en geskryf is deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees. Ons glo dat dit die wil van God, gesaghebbend verkondig, en ons alles leer wat vir die saligheid nodig is.

  • ONS GLO dat alle mense na die beeld van God geskape is; as gevolg van hulle sondige opstand is hierdie beeld geskend; dat alle mense voor God gesondig het en dit die wil van God is dat alle mense deur geloof in Jesus Christus saligheid sal ontvang.

  • ONS GLO in die doping met die Heilige Gees, met die spreke in tale as een van die tekens daarvan. Ons glo dat ‘n Christen ‘n dissipel van Jesus Christus behoort te wees en ‘n toegewyde en heilige lewe moet lei.

  • ONS GLO dat Jesus Christus die Hoof van die geloofsgemeenskap is wat deur die Heilige Gees saamgevoeg is en wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges. Die geloofsgemeenskap is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en God se wil vir alle mense. As charismatiese gemeenskap verkeer hulle onderling en stig mekaar.

  • ONS GLO dat die doop van die gelowige deur onderdompeling en die Nagmaal instellings van Jesus Christus is en deur die geloofsgemeenskap onderhou moet word.

  • ONS GLO dat op die God-bestemde tyd Jesus Christus sy geloofsgemeenskap sal kom wegneem.

  • ONS GLO in die oordeelsdag wanneer Jesus Christus die lewende en die dode sal oordeel. Ons glo in die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose. Ons glo in ‘n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waar God in heerlikheid sal regeer.

 

bottom of page